Amira skenk speelpark

Amira skenk speelpark

Sangeres gee geld van haar konserte

SUSAN CILLIERS
Donderdag 06 Maart 2014
 
 
 
 

Potchefstroom. – “Ek is baie dankbaar dat ek hier mag wees. Nelson Mandela het gesê kinders moet vry kan speel. Ek het ’n bietjie na hom geluister en besluit om die speeltuin te bou.”

Dit was gister die woorde van die Nederlandse sangsensasie Amira Willighagen (9) aan opgewonde kinders van die Ikageng-township by die stad.

Die geleentheid was die opening van ’n speelpark in wyk 12, waarvoor Amira ’n groot geldelike bydrae gelewer het uit die opbrengs van haar konserte.

Die park is ook na haar genoem.

“Dankie vir al die mense wat dit waar gemaak het,” het Amira gesê met verwysing na die ander borge en die Tlokwe-munisipaliteit in Potchefstroom, wat help toesien het dat alles op grondvlak gedoen word.

Die ander borge is Eerste Nasionale Bank, Rand Merchant Bank en die Nederlandse lugdiens KLM.

Ikageng se kinders het nie op hulle laat wag om die swaaie, rondomtalie en glyplanke te toets nie.

’n Droom het gister vir hulle én Amira waar geword.

Haar ma, Frieda, ’n boorling van Potchefstroom, het vertel vandat die kinders gebore is (in hul nuwe tuisland, Nederland), het hulle elke jaar vir hul ouma, Elsa Brand, kom kuier. Brand is in November verlede jaar oorlede.

“Ek het besluit my kinders moet nie net hul wêreld sien nie, maar ook Ikageng,” het Frieda gister vertel.

“Die laaste keer toe ons hier was (Amira was toe sewe) het sy besef dit lyk anders hier as in haar wêreld. Sy het begin droom daarvan om ’n speelterrein vir die kinders te bou én wou graag op TV wees.”

Amira het vertel haar ma het gesê sy kan op TV verskyn wanneer sy nege is en dat sy geoefen het daarvoor. Terwyl dié droom oorweldigend verwesenlik is nadat sy in Oktober verlede jaar Holland’s Got Talent gewen het, het dit ook die deur oopgemaak vir haar tweede droom: Sy het die helfte van die opbrengs uit haar optrede in twee konserte die afgelope week naby Kaapstad vir die speelparkprojek geskenk.

Barei Segotso, speaker van die Tlokwe-raad, het Amira bedank omdat sy haar Potchefstroomse wortels onthou het. “Jy het jou ouma trots gemaak.”

Dudu Modise, raadslid in wyk 12, het in die sopnat Potchefstroom gesê Amira sal van nou af hier bekend staan as “Motlhalepule” – die een wat saam met die reën gekom het.