‘Gewone lewe’ kom eerste vir jong ster

SOMERSET-WES. – Sy is ’n volle 1,34 m lank en maar net nege jaar oud – nietemin loop die Nederlandse operasangeres Amira Willighagen selfversekerd die vertrek binne, steek haar hand uit en stel haarself voor.

Amira het die realiteitsprogram Holland’s Got Talent in Desember 2013 gewen.

Haar uitvoering van die aria “O Mio Babbino Caro” uit Giacomo Puccini se opera Gianni Schicchi is al 15 miljoen keer op You­Tube gekyk.

Haar ma, Frieda Willighagen, is ’n Suid-Afrikaner en haar ouma, Elsa Brand, het tot met haar dood verlede jaar in Potchef­stroom gewoon.

Amira en haar ouers, Gerrit en Frieda, en haar boetie, Fincent (11), is tans in Somerset-Wes waar sy vanaand en môreaand by Rand Merchant Bank se Starlight Classics-konsert op die wynlandgoed Vergelegen optree.

“Dit is baie mooi in Kaapstad. Ek hou baie van swem en sien uit daarna om in die see te gaan baljaar,” het sy gister opgewonde aan Die Burger vertel.

Onder haar arm het sy vir “Schildpaddie”, haar sagte speel­ding, styf vasgehou. ’n Skilpad is haar “lieflingsdier” en sy het hierdie een in 2013 by Croc City in Johannesburg gekoop.

Hoe het haar lewe ná Holland’s Got Talent verander?

“Nie baie nie. Ek reis net meer na die buiteland. My vrien­de dink dit is baie oulik,” het sy geskerts.

Volgens ma Frieda kom die skool en ’n “gewone lewe” eerste.

“Dit is soos ’n kind wat goed in sport of ballet is. Hulle lewe gewone lewens, maar gaan nou en dan weg om hul sportsoort te be­oefen.

“Amira oefen nie elke week nie. In Nederland mag ’n kind van haar ouderdom net twaalf keer per jaar werk – dit sluit onderhoude in. Ons moet dus goed kies waarvoor ons ja of nee sê.”

Amira vier haar tiende verjaardag op 27 Maart, wanneer haar eerste CD ook uitgereik word.

Vir haar ouers is dit steeds vreemd om hul jongste op ’n groot verhoog te sien staan.

“Alle ma’s dink hul kinders is die beste. Ek het haar aangemoedig om in te skryf, maar om dit versigtig te doen – ek wou haar nie teleurstel nie,” het Frieda gesê.

Die hele familie is egter musikaal. Pa Gerrit bespeel die trekklavier, terwyl Frieda en ouboet Fincent die viool bespeel.

“Sy was sewe toe sy en Fincent soms in die plaaslike park gaan sing het. Die mense het om haar gedrom . . . ons het toe besef watter besonderse stem sy het,” het Gerrit bygevoeg.

Amira het die helfte van die geld wat sy met haar optredes in Suid-Afrika verdien, ge­skenk om ’n speelpark in die informele nedersetting Ikageng in Potchefstroom te open.

Die park, met altesaam R130 000 se speelgoed en toe­rusting, sal Woens­dag geopen word.

  •  Kaartjies vir die Starlight Classics kos R200 per persoon en kan by Computicket gekoop word.
  • Amira Willighagen, die ster van Holland’s Got Talent, gesels gister met Die Burger by die wynlandgoed Vergelegen. Foto: Bertram Malgas