Klein mensie met ’n gróót stem in SA

 

Amira Willighagen. Foto: Denzil Maregele

Amira Willighagen (10) van Nederland is waarskynlik die jongste sangwonder tans op aarde, tensy iemand diep in die Amasone of op ’n afgeleë eiland wegkruip.

Sy is internasionaal dié stemontdekking van 2013 en is nou op haar tweede besoek aan Suid-Afrika vir vier optredes.

Amira is klein van postuur. In haar blou oë is daar reeds ’n lewendigheid te ontdek wanneer sy gesels. Sy kommunikeer ook met haar oë. Die glimlag is natuurlik, nie gemaak nie. As sy hard moet nadink, is daar ’n ligte frons op haar voorkop wat oombliklik verdwyn wanneer sy haar antwoord formuleer.

Haar openbare spontaneïteit maak haar geliefd. Die TV-kameras lieg nie. Die mikrofone waardeur haar stem reeds miljoene bereik het, nog minder.

Op die vraag of sy haar besonder baie moes voorberei vir die Holland’s Got Talent-kompetisie, antwoord sy: “Nie so baie nie. Die kompetisie is voorafgegaan deur talle oudisies. Vier van hulle is op TV gebeeldsend. Toe dit afgehandel is, moes ons lank vir die uitslag wag. Op ’n dag kom pappa met sy fiets tuis en sê vir my: ‘Jy’s aanvaar om aan die kompetisie deel te neem.’ ”

Haar pa, Gerrit Willighagen, voeg by: “Daar was waarskynlik so na aan ’n honderd kandidate in elke uitvoerende kunsvorm denkbaar wat daarvoor gekwalifiseer het. Oor vier aande is hulle op TV gebeeldsend met talle kandidate per uitsending.

“Later was daar 64 kandidate. Dit is gehalveer. In nóg vier programme het agt kandidate per program opgetree, waaruit die beoordelaars uiteindelik die agt finaliste moes kies.”

Amira was deel van die laaste groep. Onder hulle was daar ook ene “oupa Piet” wat op 84 sy debuut in die kompetisie gemaak het. Hy was die oudste finalis en Amira op nege die jongste.

Sy is eerlik daaroor dat sy op die finale aand bekommerd was sy sou dit dalk nie maak nie, want ’n dansgroep wat ook onder die finaliste was se gewildheid by die publiek was groot. In so ’n finale ronde kan almal ook per SMS stem wie hul gewildste kandidaat uiteindelik is.

Wat toe gebeur het, is geskiedenis.

Amira se sang in die aria “O Mio Babbino Caro” van Puccini – wat met algehele verbasing en ongeloof deur die drie beoordelaars begroet is – was die deurslaggewende keerpunt in haar jong lewe. Die YouTube-beelde van dié uitvoering is ’n wêreldwye treffer.

“Ek het die middag voor die finale ronde heeltemal onverwags ’n boodskap van Jackie Evancho uit Amerika ontvang. Sy het my voorspoed toegewens en dit het my nog meer selfvertroue gegee,” vertel Amira.

Al bly skoolgaan vir Amira nog lank ’n werklikheid, is daar opwindende ontwikkelings aan die gebeur.

Die Nederlandse violis en dirigent ­André Rieu het haar vroeër vanjaar genooi om saam met sy orkes in Maastricht op te tree. Dit was “ ’n geweldige” ervaring, sê sy.

Terwyl sang haar passie is, Maria Callas ’n stimulerende invloed bly en sy atletiek op sportgebied verkies, kan Amira haarself ook eendag as ’n verpleegster of lugwaardin sien. Of haar publiek dit ooit gaan toelaat, sal net die tyd leer. 

 Amira is Vrydag- en Saterdagaand, asook Sondagmiddag deel van die konsert Paul Potts and Friends by Montecasino.